Lig in Duisternis - Afrikaanse Protestantse Kerk - Primrose

 

APK Primrose

Stigting
Met die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk in 1987, het dit duidelik geblyk dat daar 'n besondere nood onder die Afrikaner was om weer 'n Kerk te kon bywoon wat Gods woord suiwer tot hulle beskikking gestel het.

Sommige van die punte wat onrus veroorsaak het, en gelei het tot die stigting van die AP Kerk, was onder andere 'n moontlike kommunistiese bedreiging, en verskillende interpretasies van sommige Ou Testamentiese gedeeltes in die Bybel, om maar 'n paar te noem.

Dit is merkwaardig dat daar ongeveer 90 gemeentes gedurende 1987 gestig is. Die eerste ringsittings het reeds op 20 September 1987 en 2 Oktober 1987 plaasgevind.

Dit was die begin van 'n konsep wat gegroei het uit geloof, en tot vandag nog standvastigheid verleen aan diegene wat volle vertroue in God toon.


Oos Rand
Aan die Oos Rand spesifiek was dit pynlik duidelik hoe groot die nood was, met die stigting van verskeie gemeentes gedurende 1987.

Van die gemeentes was onder andere Primrose, Germiston, Benoni, Kempton Park en Brakpan.

Die eerste gemeente aan die Oos Rand was Germiston, wat amptelik op 24 Augustus 1987 gestig is. Kort op hulle hakke was Primrose gemeente, wat op 11 September 1987 onder leiding van ds. JH Engelbrecht gestig is.

Primrose
Die verrigtinge rondom die stigting van die Primrose gemeente op 11 September 1987 het plaasgevind in die Hoërskool Vryburger skoolsaal. 23 Belydende en 5 dooplidmate het tydens die stigting toegetree.

Tans is daar ongeveer 110 belydende en 19 dooplidmate.

Dienste was dan ook gehou in die skoolsaal van Hoërskool Vryburger, tot ons op 6 Augustus 1995 met groot vreugde ons eie kerkgebou kon betrek.

Die hoeksteenlegging het op 25 Maart 1995 plaasgevind.

Lidmate wat na 1995 lede van Primrose gemeente geword het, sal sekerlik nooit besef hoeveel vreugde die reeds gevestigde lidmate moes ervaar het tydens die inwyding van die pragtige gebou nie.

Baie ure se sweet en harde werk was uiteindelik mildelik beloon. Geeneen van die 'ouer' (eerste) lidmate sal seker die 'boksembende' vergeet nie. Die lidmate was bereid om hope papier, karton en koerante van enige soort wat verkoop kon word aan te ry.

Hiervoor het die 'boksembende' uiteindelik 'n ou vragmotor bekom, wat somtyds kopsere veroorsaak het, maar tog nooit hulle gees kon breek nie.

Maar dit is so dat alle lidmate baie hard gewerk het om die stuk grond te bekom, dit te omhein, en uiteindelik 'n kerkgebou op te rig.

Die geloof in ons Skepper, harde werk, deursettingsvermoë, en die lidmate se betrokkenheid by fondsinsamelingsprojekte, het wonderwerke laat geskied.

Die lidmate wat hul bydrae gelewer het deur die skenk van donasies, sal sekerlik ook nie vergeet word nie.

Om vandag voor die manjifieke gebou, wat ons die APK Primrose noem, te staan, bring heimwee na menige lidmaat se hart.

Die besluit om 'n kerkgebou op te rig, is nie 'n taak waaroor ligtelik besluit word nie.

Lidmate dink terug aan die probleme wat ondervind was om 'n geskikte stukkie grond te kon bekom.

Die probleme met die munisipaliteit oor waar die kerk se grensdraad moes eindig. Lang aande waartydens die fondasie gegooi was. Daar word vertel dat die helpers kniediep in die sement gestaan het, omdat die sement onophoudelik afgelaai was.

Omrede die grondformasie onstabiel is, was daar probleme ondervind met die gewig van die kerkgebou, en moes 'n baie diep fondasie gele word, sodat die kerk op vaste fondamente sou staan.

Nog vele oorkombare probleme was gele op die pad van lidmate wat hul droom van 'n eie kerkgebou wou laat realiseer. Geeneen van die probleme kon hulle gees breek, of hul geloof in dit waarvoor hulle so hard gewerk het, laat wankel nie.

Lidmate, oud of jonk, sal ook erken dat alles slegs moontlik was deur hul geloof in die Here Jesus Christus.

"Want niemand kan 'n ander fondament le as wat daar gele is nie, dit is Jesus Christus." (1 Kor. 3:11)

Leraars deur die jare (nie volledig):
05/12/1992 tot 21/01/1996 - Ds. Hendrik Christiaan VENTER
10/04/1999 tot 16/03/2003 - Ds. Pieter Benjamin MÜLLER
02/11/2003 tot 30/06/2004 - Ds. Gert Johannes KRUGER
01/02/2007 tot vandag - Ds. Bertus KRUGER




 

|| tuisblad || ampsdraers || geskiedenis || kontak ons || fotos ||

APK Primrose © 2005